Groter vryheid vir mediagebruikers laat koerante kwyn

vintage-old-book-document-resized

Die onlangse bekendmaking van Naspers-groep se resultate vir die jaar wat op 31 Maart 2015 geëindig het, was waarskynlik vir die beleggers meer opwindend as vir my geslag se joernaliste wat op drukkersink gefloreer het.

Ek het in Desember 1978 my koeranttande in Beeld se nagkantoor gesny waar dit so te sê ‘n heilige ritueel was om omstreeks nege-uur in die aand na die settery toe te gaan – een vloer laer en nader aan die drukpers – om toe te sien dat die laaste korreksies op die blaaie van die eerste uitgawe aangebring word. Ons mog niks meer gedoen het as om oor die vakman-setters se skouers te loer nie, maar dit was so lekker dat partytjies by die kantoor ‘n “natsteen” genoem is.

Vir my is dit nogal vreemd dat die woord nog nie in ‘n verklarende woordeboek opgeneem is nie en sodra ek die lottery wen sal ek die borg daarvan vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal word. Die term steen het waarskynlik sy oorsprong in oertye toe klippe gegraveer is met die oog daarop om dit vir drukwerk te gebruik.

Naspers, wat binnekort sy eeufees gaan vier, het met een koerant begin en seker vir die grootste deel van sy bestaan ‘n magtige ryk met gedrukte publikasies opgebou.

Maar oor die afgelope dertig jaar, met die koms van betaaltelevisie (wat intussen ook gekwyn het en deesdae as videovermaak bekendstaan) en internet, het die prentjie stelselmatig verander … so drasties dat gedrukte media nou net vir 9 persent van die maatskappy se omset sorg.

Die internet, met penwortels in China en Rusland, is deesdae Naspers se super-melkkoei wat vir byna 60 persent van die inkomste inbring. Videovermaak dra 32 persent by; videovermaak omdat gebruikers al hoe meer op aanvraag die digitale vermaak gaan kry wat hy wil hê en nie meer van DSTV se ellelange lys van televisiekanale hoef gebruik te maak nie.

Die implikasies hiervan word briljant saamgevat in die lokskrif wat LinkedIn gebruik vir ‘n blog van ene Michael Wolff: Advertising is dead and it is not coming back. Volgens die skrywer gaan die groot mediagroepe nie meer hul geld maak uit advertensies nie, maar uit direkte aanlynverkope.

Naspers-aandeelhouers hoef nie te vrees nie: uit sy jaarverslag blyk dit duidelik dat e-handel reeds goed gevestig is en sterk groei. Sy hoofhandelsmerk OLX het volgens die jaarverslag reeds 240 miljoen gebruikers wêreldwyd en kry gemiddeld 34 miljoen besoeke per dag.

Volgens Wolff het die tradisionele advertensiewese darem nog ‘n vastrapplek in ontluikende verbruikersgemeenskappe en ‘n mens kan dit sien as jy ‘n buurland, soos Swaziland, besoek. Ek was nogal so geïmponeer deur ‘n uitgawe van 52 bladsye van die Times of Swaziland wat ek onlangs in die hande gekry het, dat ek verder ondersoek ingestel het.

Dit is inderdaad die storie van ‘n advertensieverkoopsman, wyle Douglas Loffler, wat in 1975 ‘n weekblad met een werknemer en een lessenaar by die Argus-koerantgroep gekoop en uitgebou het tot ‘n uitgewersmaatskappy met verskeie publikasies en 140 werknemers. Die Times of Swaziland het ‘n sirkulasie van sowat 300 000 per dag en dit lyk of omvattende nuusdekking en lesersbetrokkenheid (danksy digitale tegnologie) die geheim vir sy sukses is.

Tog is daar klagtes en beskuldigings uit ander oorde dat die koerant nie al sy verantwoordelikhede teenoor sy gemeenskap nakom nie. Dit is die onderwerp vir die volgende keer wat ons gesels.

Fanie Krige is die media- en skakelkonsultant van Solid Stuff Creative en help ook graag met strategiese bestuursondersteuning. Kontak hom by fanie@solidstuff.co.za.

1 Comment

  1. Koos Botha says:

    Die eerste publikasie in die aard van ‘n koerant was die Cape Town Gazette and African Advertiser in 1800. Die uitgewer was Walker & Robertson. Kort daarna het die regering die drukkery en blad oorgeneem. Daarna het partydigheid ingetree en is partyleiers nagevolg. In 2015 staan Afrikaanse koerante koud teenoor die taal en kultuur van ons volk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *