’n Vriendelike walvis bring groot sukses

seriously-simple-podcasting-icon

Hoe ouer ’n mens word, hoe lekkerder is dit om te sien dat jong mense wat jy ken deurbrake maak en sukses behaal. Veral as jy op ’n manier ’n aandeel – regstreeks of onregstreeks – daarin gehad het.

Laat ek eers net die versekering gee dat dit nie die waarheid bevestig nie van die ou Engelse gesegde wat lui: Success is relative; the more success the more relatives.

Die storie is eintlik Hugh Lashbrooke s’n, maar op ’n manier het Solid Stuff Creative gehelp dat sy digitale inpropproduk oftewel “plugin” tot die gewilde blogbedryfsprogram WordPress binne enkele maande deur meer as 40 000 ander gebruikers afgelaai is.

Dit wil nogal gedoen wees want net vir WordPress is daar meer as 36 000 inpropprodukte in die amptelike virtuele magasyn van die program.

Hugh se produk staan bekend as Seriously Simple Podcasting en soos die naam aandui gaan dit daaroor om die kragtige potgooitegnologie op ’n eenvoudige en bruikbare manier tot die beskikking van WordPress-gebruikers te stel. Die oorspronklike WordPress-koppelvlak word gebruik en die eenvoudige paar verstellings wat die gebruiker moet maak, gaan nie sy aandag aflei van sy eintlike doelstelling om iets op WordPress te publiseer nie.

Maar Seriously Simple Podcasting bied ook vir die ernstige blogger verskeie ander moontlikhede wat sy werk net soveel meer professioneel sal laat lyk. In Hugh se beskrywing van die produk se hoofkenmerke kom ek, byvoorbeeld, af op die term taksonomie, ook bekend as die leer van sistematiek. Vir baie sal dit soos ’n anglisisme klink, maar die woord geniet al jare lank Afrikaanse erkenning omdat dit gebou is uit die Griekse woorde taxis (rangskikking) en nemo (bestuur). Die produk help dus die gebruiker om sy potgooie volgens tipe en reeks te rangskik.

Daar word ook verwys na ’n widget oftewel ’n hulpprogram waarmee jy onlangse potgooie op enige plek in jou blog kan aantoon. ’n Term wat klaarblyklik nie vertaal kan word nie, is RSS (Real Simple Syndication of Rich Site Summary) maar Hugh se produk bied maklike en kragtige toevoer vanaf alle potgooidienste na jou blog.

Daarom kan jy jouself indink dat ’n produk soos Seriously Simple Podcasting groot aftrek sal kry. Maar dit is nie so eenvoudig nie! Die hedendaagse internetwêreld is uiters mededingend met duisende ander produkte wat almal die oog wil vang.

Dit was die uitdaging waarvoor Hugh te staan gekom het toe hy besef dat sy briljante inpropproduk iets ekstra nodig het om die gebruik daarvan te bevorder.

Hugh sê die algemene opvatting dat ’n goeie inpropprogram homself bewys en niks anders werklik nodig het om uit te staan nie, is ’n mite waarin mense glo omdat hulle nie vir hulself ekstra werk op die hals wil haal nie.

Hy het na jare se ervaring vir homself ’n vyfpuntplan ontwikkel om die aflaaitellertjie aan die rol te kry. Die vyf wenke wat hy in sy artikel deel, kan soos volg saamgevat word: skep vir jou produk ’n kenmerkende identiteit, gebruik dit in jou produkbeskrywing as skermskote, antisipeer gebruikers se vrae en bied die antwoorde al by die loodsing van die produk, fokus op jou produk se eienskappe (en nie die struktuur en raamwerk nie) en maak deeglik gebruik van die gebruikersforum wat outomaties vir elk van WordPress se ondersteuningsprodukte tot stand gebring word.

Mashoof

Solid Stuff Creative se bydrae tot Seriously Simple Podcasting was om die kenmerkende identiteit te ontwikkel. Alle inpropprodukte in dieWordpress-magasyn word toegelaat om ’n mashoof en ’n gebruiksikoon te hê. Aanwysings en afmetings daarvoor word voorsien. Vreemd genoeg maak baie ontwikkelaars nie daarvan gebruik nie, maar as jy dit gaan doen, is dit vanselfsprekend dat jou ontwerp treffend genoeg moet wees om die oog te vang.

Gebruikersikoon

Dit moet ook iets van die produk vertel. In die geval van Seriously Simple Podcasting was dit vir ons ontwerpdirekteur, Imar Krige, ’n relatief eenvoudige besluit om ’n walvis te gebruik omdat dit in Engels geassosieer word met die term “pod” vir ’n groep walvisse. Daar was egter bykomende elemente nodig om dit op die produk te laat fokus.

Die gebruik van rooi seinsirkels bokant die walvis se kop sal die gebruiker laat besef dat dit oor potgooie of uitsendings gaan. Die feit dat die sirkels van die kop af uitkring, versterk die wete dat die kernelement van die produk die verbruiker is.

Die glimlaggende gesig van die walvis dui daarop dat die produk gebruikersvriendelik is en baie bevrediging gaan bied. Die klein golfies op die see dui ook op pret en plesier. Dit word onderstreep deur die slagspreuk: Podcasting the way it’s meant to be!

By Hugh Lashbrooke is daar geen twyfel dat sy inpropprogram ’n goeie hupstoot gekry het met die weldeurdagte logo wat daarvoor ontwikkel is nie. Laat Solid Stuff Creative jou ook help. Onthou ons dienste sluit enigiets in wat met uitmuntende ontwerp, woorde en beeld te doen het.

Fanie Krige is die media- en skakelkonsultant van Solid Stuff Creative en help ook graag met strategiese bestuursondersteuning. Kontak hom by fanie@solidstuff.co.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *